Christianity · Christology · Church · Jesus Christ

Oor Jesus as “gewone mens”

In ‘n artikel wat ek onlangs op ‘n baie aktiewe Christen-apologetiese webwerf teëgekom het (http://www.antwoord.org.za/2013/04/jesus-gewone-mens/), word daar weer gevra, Was Jesus ‘n gewone mens? Die artikel is ‘n antwoord op vrae van ‘n leser nadat hy/sy ‘n boek deur Prof. Willie Esterhuyse gelees het, God en die gode van Egipte. Ek het self nie die boek gelees nie, en kan daarom nie my mening lug oor die inhoud daarvan nie; waaroor ek wel my mening kan lug is die inhoud en trant van Udo Karsten se antwoord op die saak – spesifiek oor wie Jesus van Nasaret was.

Reg van die staanspoor af word daar verwys na “baie mense, ook ortodokse Christene.” Dit is altyd interessant hoe groepsoriëntasie in apologetiese skrywes uitgedruk word. “Christen” is nie hier genoeg nie; “ortodokse Christen” is ‘n noodsaaklike verbetering want dit is hulle wat die ware en regte Jesus beet het. En met “ortodoks” word daar nie “Ortodoks” bedoel nie – want die skrywer sal baie gou die leerstellings en tradisies van Ortodokse Christendom uitwys as nie-ortodoks. “Ortodoks” word hier met baie vryheid gebruik om te verwys na die dogma en tradisie wat vervat is in wat Calvinisme geformuleer en geërf het. (Seshonderd jaar gelede sou so ‘n Protestante Christen-stroom as alles behalwe “ortodoks” beskryf word. Maar soos bykans alle godsdiens-stryde, word daar aan alle kante aanspraak gemaak dat hulle geloofsleer die ware een is; min ander woorde word dan meer los-en-vas gebruik as ortodoks.)

Die skrywer brei dan sy antwoord uit ten gunste van sy gekose “ortodoksie” deur eerstens te antwoord op Esterhuyse se verwysing na Jesus se “geboortelike en byna biologiese verhouding as God se Seun.” Hy betwyfel dat enige “gerespekteerde teoloog” al gepraat het van “Jesus se biologiese verbintenis met God,” en gee dan die standaard, amptelik-aanvaarde geloofstelling van die Kerk sedert die Vyfde Eeu, naamlik “dat Jesus in sy persoon volledig die Goddelike natuur deelagtig was, net soos hy ook volledig ‘n menslike natuur deelagtig was.” “In die Christologie word dit [so] gestel,” sê hy, asof daar eintlik net een manier is wat ‘n mens dit kan en mag sê.

Ek moet uitwys dat Esterhuyse verwys na ‘n byna biologiese verhouding as God se seun. En Esterhuyse se stelling is beslis nie van die merk af nie. In een van sy polemiese werke oor die Konsilie van Nicea en die Ariese Geskil, maak Athanasius herhaaldelik uitgebreide analogieë oor hoe die Seun in dieselfde aard of natuur van die Vader deel juis omdat hy seun is en verwek word deur die Vader (De Decretis II.3, III.13, V.19-24, VI.25, VII.28, 30, 31). Deur selektief gebruik te maak van sekere raakpunte wat met biologiese verwekking geassosieer word, het Athanasius vanuit sy eie nie-Joodse paradigma sy dogma van “Goddelike verwekking van die Seun” geformuleer. ‘n Byna biologiese verhouding as God se seun? Ongetwyfeld. En Esterhuyse se waarneming is daarom korrek.

“‘Seun van God’…dui eenvoudig op ‘n spesifieke verhoudingsdinamika,” sê Udo Karsten. Dit is waar, maar weereens is dit ook hier waar die glibberige helling van na-bybelse verwysingsrame die inhoud van daardie “verhoudingsdinamika” bepaal met allerhande komplekse metafisiese formules. Feit is dat seun van God ‘n Eerste-Eeuse Hebraïese betekenis gehad het en dat die konsep geheel binne eietydse Sitz im Leben gebruik is. Dit is híér waar die seun-van-God-konsep volgens Jesus en sy Joodse volgelinge wêreldwyd verskil van die Seun van God volgens Athanasius en sy Grieks-Romeinse Kerk. Die onversoenbaarheid van die twee konsepte word raak opgesom deur wyle Geza Vermes:

Dit is tog noodsaaklik om te beklemtoon dat een betekenis nooit [hiermee] betuig word nie omdat dit onversoenbaar is met Joodse monoteïsme. Dit is die nie-metaforiese, selfs letterlike gebruik van ‘Seun van God,’ wat nie soseer die draer se nabyheid met God weens uitverkiesing impliseer nie, maar sy werklike deelagtigheid in die Goddelike natuur. So ‘n begrip, hoe algemeen ookal in die omliggende Grieks-Romeinse en Oosterse beskawings, was en word steeds deur Jode van alle eras, van Bybeltye tot op hede, as lasterlik beskou. [1]

Die verderde sofistikering van die Seun-van-God-konsep deur die nie-Hebraïese kerk, (dink maar aan konsepte soos perichorese, Hipostatiese Eenheid , Ewige Verwekking, ens.) was bloot ‘n onomkeerbare voortsetting van ‘n pragmatiese breuk wat eeue vroeër deur nie-Joodse (selfs anti-Semitiese) Kervaders aan die gang gesit is.

Udo Karsten glip dan ‘n subtiele ad hominem in en sê dat “Esterhuyse Jesus se menslikheid wil beklemtoon en enige Goddelikheid wil ontken,” en dat Esterhuyse die saak “hopeloos ongesofistikeerd benader” (Karsten en “ortodokse Christene” se graad van sofistikering is natuurlik die ware maatstaf). Die gunsteling wisselkarakter (wildcard) word dan gespeel met nog ‘n titseltjie ad hominem, naamlik dat die Inkarnasie en Drie-eenheid nie heeltemal by ons verwysingsraamwerk inpas nie (beroep op misterie), en dat diegene wat ernstig met hierdie sake geworstel het darem sal wéét dat dit so is. Die beroep op misterie sorg dan ook sommer vir die gedagte-beëindigende cliché. Geen van die vrae is beantwoord nie, die Kerk se na-bybelse sofistikering van taal in volksvreemde konsepte word nie-krities as ortodoks aanvaar, en as al jou knersende probleem-oplossigspogins jou ore laat tuit, moet jy liefs jou verlaat op misterie. Dit herinner my aan die gevolgtrekking deur Cambridge professor van Filosofie en Teologie, John Hick, toe hy juis oor hierdie tendens gesê het:

Dit is ‘n mensbedinkte hipotese; en ons kan nie ‘n gebrekkige hipotese red deur dit ‘n Goddelike geheim te noem nie. [2]

In verdere verdediging van die “ortodokse” Christelike leer, sê Karsten dat daar in die “Christelike tradisie al vir 2000 jaar ernstig hieroor nagedink [is]” en beroep hy hom dan weer nie-krities op misterie. Sy ad antiquitatem is natuurlik weereens selektief, want Karsten sal bitter vinning sekere nie-Protestantse dogma en praktyk as nie-ortodoks verwerp wat self al vir eeue lank bedink, gesofistikeer en beoefen is – net nie binne Karsten se gekose “ortodoksie” nie.

Behalwe vir die ooglopende blinde kolle in Karsten se artikel, vind ek sy retoriek van self-promofering en herdefiniëring waarlik amuserend. Iemand wat van sy “ortodoksie” verskil het by verstek maar nog nie die saak mooi deurdink nie. Geleerdes ten gunste van “ortodoksie” is die ware kenners, en diegene soos Esterhuyse wat van “ortodoksie” verskil se saak is gewoon minderwaardig. En as die Kerk se grootste denkers oor die saak vir “2000 jaar” nog net op misterie te lande gekom het, het arme Esterhuyse en ander kritiese denkers nie ‘n kat se kans om die enigma uit te werk nie. Om nie eers te praat van sy eg-Calvinistiese lae beskouing van menslikheid nie (vandaar sy beswaar teen die beskrywing van Jesus as gewone mens).

Feit is dat geen gerespekteerde gesag op die gebied – “ortodoks” of nou nie – al gemeen het dat die ontwikkelde Drie-eenheidsleer, kompleet met sy Twee-Nature verbetering van die Vyfde Eeu deur Jesus of sy vroegste volgelinge as implisiete aanname of eksplisiete dogma geleer is nie. [3] Die Hebraïese wêreld-beskouing het nie ruimte of filosofiese boustene gehad vir so ‘n leer nie. Sonder hierdie konseptuele “roumateriaal” herhaal ek gewoon wat verskeie kenners in die antropologie en die Ou Nabye Oosterse Kultuur vir dekades reeds beaam: die idee dat God en mens verskil in terme van “nature” of “essensies” of dat God ‘n enkele Wese in drie verskillende Persone is, is so volksvreemd dat nie Jesus of die skrywers van die Nuwe Testament hierdie konsepte sonder die grootste weersin sou verwerp het nie. In die Hebraïese verstand kon die Drie-eenheid as niks anders as verdoeselde politeïsme beskou word nie. Geen mate van sentiment of die snoesige herinnering dat ware kenners op die gebied van na-Bybelse dogmatiek die saak al pap gedink het, kan die onbetwisbare weerlê nie.

‘n Beter benadering tot die saak (een waarvoor “ortodoksie” as ‘n reël bittermin verdraagsaamheid gehad het) behoort eerder te wees, wat die Nuwe Testament se beskouing van verloste mensdom was in die lig van die baie hoë agting wat dit aan die mens Jesus geheg het. Wat was die heersende paradigma van die tyd en hoe het hierdie paradigma die taal en beeldspraak omtrent Jesus verklaar? Watter ander figure kom in Tweede-Tempel Tekste voor wat ook onbetwisbaar mens was en niks meer nie? Hierdie en ander vrae word sedert die vroeë Twintigste Eeu deurdringend ondersoek, en die bedreigende implikasies vir “ortodoksie” is, nodeloos om te sê, aanvoelbaar.

[1] Geza Vermes, Christian Beginnings: From Nazareth to Nicaea, AD 30-325, bl. (my vertaling).

[2] John Hick, The Metaphor of God Incarnate, bl. 71 (my vertaling).

[3] “Enigeen wat kennis dra van basiese historiese grondbeginsels sal erken dat die leerstelling van die Drie-eenheid geen deel van die oorspronklike boodskap uitgemaak het nie. St. Paulus het nie daarvan geweet nie, en sou ook nie in staat gewees het om die betekenis van die terme te verstaan wat in die teologiese forumule gebruik is waarop die Kerk uiteindelik saamgestem het nie.” – W.R. Matthews, God in Christian Experience, bl. 180; “Die ontwikkeling van die Drie-eenheid: Geen verantwoordelike NT geleerde kan beweer dat die leerstelling van die Drie-eenheid deur Jesus geleer is of deur die vroegste Christene verkondig is of bewustelik gehuldig is deur enige skrywer van die NT nie. Dit was inteendeel stelselmatig uitgewerk deur die verloop van ‘n paar eeue ten einde ‘n verstaanbare leerstelling van God te formuleer.” – A.T. Hanson, The Image of the Invisible God, bl. 87; “Unitarianisme as teologiese beweging het baie vroeër in die geskiedenis ontstaan; dit dateer inderdaad baie dekades terug as Trinitarianisme. Die Christelike godsdiens is afgelei van Judaïsme, en Judaïsme was streng Unitaries. Die pad wat van Jerusalem na Nicea gelei het was nouliks ‘n reguit een. Vierde-Eeuse Trinitarianisme het nie die vroeë Christelike leer aangaande die aard van God akkuraat weerspieël nie; dit was in teendeel ‘n afwyking van hierdie leer. Dit het daarom in reaksie op die konstante Unitariese, of ten minste anti-Trinitariese, teenstand ontwikkel.” – Encyclopedia Americana (1956), Vol. 27, p. 2941 (my vertalings).

Advertisements

One thought on “Oor Jesus as “gewone mens”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s